Namibië

Namibië (Duits: Namibia [naˈmiːbi̯a], Engels: Namibia, amptelik die Republiek van Namibië ,  is ’n republiek in Suider-Afrika waarvan die westelike grens die Atlantiese Oseaan is. Die land grens ook aan Angola en Zambië in die noorde, Botswana in die ooste en Suid-Afrika in die ooste en suide. Hoewel dit nie aan Zimbabwe grens nie is Namibië deur 200 m van die Zambezirivier se rivierbedding van Zimbabwe geskei (dit is waar die grens met Zambië en Botswana is). Die land het op 21 Maart 1990 onafhanklikheid van Suid-Afrika gekry na afloop van die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog. Die hoofstad en grootste stad is Windhoek. Namibië is ’n lidland van die Afrika-unie, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Britse Statebond en die Verenigde Nasies. Namibië geniet ’n hoë politieke, ekonomiese en sosiale stabiliteit.